top of page

'n Ma bemoedig


Ons ontmoeting is vlugtig, ‘n oomblik wat ons deel in ‘n spreekkamer. Ek en die vars, nuwe mamma. Sy sak in die stoel langs my neer met al haar bagasie: baba stoeltjie, doekesak en handsak. Toe die bondeltjie se stoeltjie op die grond land begin hy uit volle bors skree. Nuwe mamma vee die sweet van haar voorkop en haal ‘n boetie, sien ek, versigtig uit. Sy glimlag verwese na my kant toe en sê: “Wel, honger kan hy nie wees, hy het nou by die huis gedrink…” Boetie het vrede met wat sy ma dink, die stemmetjie weergalm deur die spreekkamer. Sy sus, skud, vryf en soen, maar geen keer aan “The Voice”. Ek probeer my aandag by ‘n tydskrif bepaal, wetend hoeveel meer onhandig mens voel as ander jou aanstaar in jou uur van nood. Uit my hart kry ek haar so jammer, want hierdie oomblikke met ‘n eerste baba onthou ek soos gister. My afspraak kom aan die beurt en toe ek verby haar stap merk ek die natigheid in haar ogies. Ek buk vinnig af na haar en fluister iets wat iemand eendag, met my eersteling, in so ‘n oomblik , vir my gesê het: “Weet jy wat, al wat hierdie klein lyfie ken, verstaan en wil hê is vir jou, sy mamma. Moenie dat sy gehuil in die openbaar jou ontsenu nie, ons almal se baba’s het dit gedoen. Hierdie dae gaan vinniger verby as wat jy kan dink, ek weet dit voel nie nou so nie, maar vasbyt jy ís ‘n goeie mamma.” Nuwe mamma se trane stroom sommer nou, sy knik en prewel ‘n “dankie”. Vir boetie het ons nog lank deur die toe spreekkamerdeur gehoor.My woorde het duidelik nie ‘n impak op hom gehad nie. My gebed is egter dat die nuwe mamma sal glo wat ek haar vertel het en dat sy eendag iemand anders kan bemoedig op ‘n tyd dat hulle dit dalk ook so nodig het…;-)

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page