top of page

'n Ma en meriete aande


Dit word hierdie tyd van die jaar waar daar oor meriete aande en die moontllike teenwoordigheid daar bespiegel word.

In ons huis werk dit maar nog al die jare so dat daar onwillekeurig saggies, agter ‘n bakhand gepraat word, wanneer die Tiener nie naby is nie. In die kleuterskool het hulle geleer dat nie almal dieselfde geskenkies by Pappa God gekry het nie en dat ons dit so aanvaar, maar ook konsidererend moet wees vir ander. My voete was nog al die jare in beide kampe. Met trots het ek op so ‘n aand gesit, maar in my hart het ‘n traan geval vir die ou wat altyd iewers moes gaan bly aangesien hy nooit genooi word nie. Sy geskenkies word nie op meriete aande beloon nie, want glo my hy het baie.

Hierdie week sit ons aan tafel, sonder ‘n Tiener, en ‘n Blom vra vir Kleinman wanneer is hulle meriete aand. Hy sê grommerig dat hy nie weet, nie omgee en ook nie gaan nie. Bekommerd kyk ek na hom en probeer die situasie opsom, want ek sien piepklein stekeltjies van tienergeite kop uitsteek en wonder of hierdie ‘n simptoom is… Versigtig vra ek, sonder enige verwyt, hoekom hy so voel en sy antwoord laat my sprakeloos.

“Ek kan nie weer daar gaan sit en geprys word oor my persentasie al vir jare lank dieselfde bly, en ek werk nie eers so hard nie. Nie een van my vriende is daar nie en weet Mamma, daar is van hulle wie se persentasies hierdie jaar elke kwartaal gestyg het. Hulle werk hard, en hulle verdien om daar te wees, nie ek nie.” Lank het ek hom ‘n antwoord skuldig gebly, ek kon eenvoudig nie my stem vertrou nie. Ek het ‘n soen op sy koppie geplant, en in my hart Hom gedank vir empatie in die hart van ‘n elfjarige. Dít laat ‘n ma trotser as enige persentasie.

Veel later deel ek dit ewe ernstig en dramaties met die Tiener, waarop hy met sy ondeunde seunskind glimlag sê: “Nee dankie, ek en Mamma weet ek sal nooit deur so ‘n aand gesit kry nie, maak maar gou ‘n ou koffie’tjie en beloon my só vir my harde werk!”

Knus in Sy teenwoordigheid dank ek Hom vir my unieke gesin. Wonder ek nie meer te veel oor hoekom een meer geskenkies of soms groter geskenkies as die ander het nie. Ek vertel Hom net dat ek weet Hy is in beheer van elke kind van my se lewe. Hy weet wie het wat, wanneer nodig en ek berus.

Sterkte liefste mede-ma vir meriete aande, jou gesin lyk dalk soos myne, hou goeie moed, Hy weet wat Hy doen. Hulle is syne…

Isaiah 46:3-4 The Message (MSG)

3-4 “Listen to me, family of Jacob, everyone that’s left of the family of Israel. I’ve been carrying you on my back from the day you were born, And I’ll keep on carrying you when you’re old. I’ll be there, bearing you when you’re old and gray. I’ve done it and will keep on doing it, carrying you on my back, saving you.

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page