top of page

'n Ma se dromer...

Hy kon na die motor toe aangestap en ek sien sommer die afdraende mondjie. Rugbybal onder die arm val hy die motor in ek weet presies wat aangaan sonder dat ek hoef te vra. Kleinman se droom om vir ‘n spesifieke rugbyspan te speel die jaar het nie realiseer nie. Die bruin kykers swem in die trane, die sweet drup van die gesiggie af en ek kan sien hy vertrou nie nou sy eie stem nie. Ek ook nie eintlik my eie een nie, want ek weet as die mannetjie droom, dan droom hy groot, sonder keer. “Ons het hieroor gebid reg?”, is al wat ek uitkry. ‘n Koppie knik, en sê met ‘n bewe stemmetjie: “Ek weet, maar ek verstaan nie.” Ons ry in stilte huistoe en voor die huis sien ek hom eers op en af stap en ‘n poging om ontslae te raak van die trane voor hydie huis ingaan. Ons is as gesin opkommandeer om die proewe te gaan kyk die vorige week, en ons was almal daar. Hy weet dus die huis is vol afwagting. Ek maak voorbrand soos ek die huis inloop met groot oë en handgebare dat niemand nou iets moet vra nie. Heelwat later die aand in sy kamer vertel ek hom van drome wat nie altyd uitwerk soos ons beplan nie. Gebede wat nie altyd beantwoord word soos ons verwag nie. Ek verseker hom egter van ‘n God wat weet wat die heel beste is vir hom en wat nie sal toelaat dat dit by hom verbygaan nie. Hierdie span is nog nie nou die beste nie. Styf druk ek ‘n rugby-mal lyfie was, plant sy gesiggie vol soene en kry darem ‘n halfmas glimlaggie.

By my stilwordplekkie is my gemoed vol. “Ek weet U weet beter, ek weet nou is nie die tyd nie en ek stem saam, maar sjoe Here dis seer as hulle seer het. Hy is nog so klein, dog so passievol. Here leer Hom vroeg-vroeg al om U onvoorwaardelik te vertrou. Help Hom U stem hoor en met oorgawe aanvaar wat ookal U antwoord. Here en doen dieselfde ook vir my, want selfs ek as Ma sukkel soms om te vertrou dat U werklik beter weet. En Here, dankie dat ek uitgekies is om só ‘n Kleinman groot te maak. Amen.”

Liewe Mede-Ma, jy het moontlik ook so ‘n passievolle, dromertjie in jou huis, pas hom op en bid vir hom. Help hom om aan te hou droom, aan te hou glo en nooit sy passie te verloor, al werk alles nie altyd uit. Ons wêreld het hulle baie nodig…

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page