top of page

'n Ma ken haar kind


Ek lees sommer in die twee bruin kykers dat die opsie wat nou op die tafel vir oorweging is, hom nie geval nie.

Hy kyk my stip aan en die kuiltjies in die wange maak nie hul gebruiklike diep gaatjies nie. Vinnig red ek hom, deur gou sy hulp te vra met ‘n takie in die kombuis terwyl almal verder kuier. By verdere navraag hoor ek dat hy nie die aand kans sien vir oorslaap nie, al is dit geliefde vriende.

Taktvol help ek hom uit die verknorsing en ons vriende verstaan. Ek sien hoe hy ontspan en die aand verder geniet. Later toe almal weg is en ek en ‘n Kleinman alleen in die kombuis is sê hy: “ ‘n Ma ken haar kind.” Ek vra wat hy daarby bedoel en hy sê: “Nee, ‘n Ma ken haar kind so goed sy hoef net in sy gesig te kyk om te weet wat hy dink en hoe hy voel.” Dis vir my die mooiste kompliment ooit en ek druk my Kleinman styf vas en verseker hom dat hy absoluut reg is.

Sy opmerking laat my dink, hoe dieselfde waar is van my Pa. Hoe dankbaar is ek vir so ‘n verhouding met Hom. Veral in tye waar woorde min is en verslaentheid of hartseer oorheers, sulke oomblikke kan ek weet dat Hy met een kyk elke versugting van my hart ken en woorde bloot oorbodig is.

Ek gaan maak myself tuis in die kring van Sy arms en dank Hom vir al die kere wat Hy my uit netelige situasies gered het, deur my een kyk te gee en te weet ek sien nie kans nie. Tye waar Hy ingegryp het sonder dat ek hoef te vra en my paaie gelyk gemaak het. Momente waar Hy my in die aangesig van my vyand geseën het, oor Hy my hart ken en weet presies hoe ek voel en dink.

Mag ek aanhoudend poog om, selfs net amper, ‘n ouer te wees soos die voorbeeld wat Hy vir my is…

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page