top of page

'n Ma en woestyntye


Daar is ‘n baie goeie kans dat julle as gesin, soos ons, ook besig is om vir ‘n paar jaar al, om dieselfde berg in die woestyn te sukkel.

Jou berg kan enigiets wees: druk finansies, ‘n siektetoestand, moeilike werksomstandighede of selfs moeilike verhoudings. Ek is so dik vir my berg, ek wil skree elke skoot as ek ‘n klip of bossie herken wat ek al op ‘n vorige geleentheid teëgekom het.

My moed sak laag en ek raak hardkoppig soos ‘n wafferse Israeliet van toentertyd. My geloof wat tog dae gelede nog brandend en vurig was, blus by die kyk na die alewige bekende voetpad voor my.

Elke kronkel en steilte ken ek uit my kop. Op ‘n môre is ek weer melodramaties in Sy ore aan’t teem oor manna wat in my opinie te min is en die water wat steeds so bitter proe. Hy vra my in Sy sagte stem, soos ek dit gewoond is, om ‘n slag om te kyk. Wat ek sien ruk aan my hart.

‘n Kleinman is besig om sy eie sakgeld rand vir rand in ‘n blikkie te spaar vir ander behoeftige gesinne. ‘n Tiener wys vriendelik en in goeie gesindheid ‘n spesiale uitnodiging na ‘n funksie van die hand aangesien hy weet dit gaan effe straf met ons finansies. ‘n Blommerige Blom bemoedig ander en het saans met huisgodsdiens altyd iemand op die hart vir wie ons as gesin moet bid.

Toe ek my kop in verslaendheid teen sy bors lê weet ek, woestyntye en ons male sonder tal gekarring om dieselfde berg is nie sinneloos nie. As dit wat ek sien gebeur in my kinders die nadraai van woestyntye is, dan sal ek bietjie daar kan uithou. Ek sal hand aan hand met Hom begin werk aan my eie gesindheid.

Sou my pad om die berg my meer kan verander na Sy beeld dan sal ek nog bietjie om die berg stap. Sou ek dalk selfs ‘n bekende klip of bossie tegemoet hardloop. Ek sou dan weet ek is besig om te wen en dat my tyd om die berg amper verby is, want wat Hy my wou kom leer is slegs: Meer soos U Jesus… nog meer soos U.

Mede-Ma ek wil jou vandag bemoedig. Hy weet van jou woestynpad, Hy ken jou berg en Hy is deeglik bewus van elke keer wat jy om stap. Vertrou Hom met jou pad, dalk is jy in die woestyn ter wille van jou kinders se redding, of dalk vir jou eie…

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page