top of page

Ja wat Nee moes wees...


Die ligte fronsie tussen die oë en die manier hoe hy my hare ligweg, agter my oor in vee gee my die idee dat iets happer.

Toe hy hom nie steur aan my wat die slaaptydstorie kortknip, weet ek my gevoel is akuraat. Met bietjie liefdevolle aanmoediging vertel ‘n Kleinman van ‘n ja wat ‘n nee moes wees. ‘n Klein lyfie sug moedeloos vir homself as hy die rede gee vir sy ‘ja’, wat hy onomwonde weet ‘nee’ moes wees.

Ek ken hierdie tipe gewroeg, en deel met hom kere, selfs baie onlangs nog, waar ek dieselfde fout gemaak het. Vertel hom dat mens soms baie manmoedig jou fout moet gaan regstel aangesien jy weet jou ‘ja’ is nie eg of opreg nie.

Die ogies dam op en wetend dat hulle op hierdie ouderdom nog nie gereed is om die wysste besluit te neem of die skade man alleen te herstel nie, gee ek my raad wyl ek die lyfie styf vashou.

“Wanneer jy in jou hartjie voel dat jou antwoord op enige betrokke vraag ‘nee’ moet wees, maar dis ‘n moeilike ‘nee’ dan gebruik jy vir mamma?” Die vraende ogies kyk op na my en ek gaan verder.

“Dis wanneer jy vir mamma die varkie in die verhaal maak. Jy stel my voor as vreeslik kwaai of streng en sê dat jy my eers sal moet vra.” Die kuiltjies in die wang is terug en hy sê/vra: “Dis slim want ek en mamma weet mos dis nie waar nie né?” ‘n Kleinman lyk sommer heelwat meer ontspanne en sien kans om die volgende dag sy skade te herstel.

Vanoggend toe ek hom aflaai voor die skool, sien ek die glimlag bereik nie die oë, en sê vining: “Ek is die oulikste, dierbaarste varkie, maar niemand anders hoef dit te weet nie, gebruik my terwyl jy nog kan!” Ek kry ‘n duim in die lug en vertrou alles sal goedgaan.

Huistoe vra ek: “Here, ek is nie eintlik eers seker of my raad nou die wonderlikste, en opregste is wat mens kan gee nie. Here, maar hulle word met soveel keuses gekonfronteer, selfs terwyl hulle nog so klein is. Vir selfs die sterkste mensies is die druk kwaai. As ek hom net nog vir so ‘n klein rukkie,voor die eiesinnige Tienerjare intree, kan probeer leer en beskerm behoort ek darem seker nie te veel skade te doen nie? ”

Liewe Mede-Ma, hulle gaan elke dag konfronteer word met vrae. Selfs ons sukkel soms met ‘n ‘ja’ wat jy voor jou siel weet ‘n ‘nee’ moes wees. Kom ons help hulle terwyl hulle nog klein is om sonder skuldgevoelens op die regte tyd ‘nee’ te kan sê. Ek en jy kan hulle leer, lei en beskerm totdat hulle oud genoeg is om self te kies. Besluit soms om ter wille van hulle die varkie in die verhaal te wees terwyl hulle klein is. Wanneer hulle Tieners raak gaan jy in elk geval meeste van die tyd regtig die varkie in die verhaal wees, en dit gaan nie jou keuse wees nie…

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page