top of page

‘n Ma se dansles…


Voorts sal die Tiener in my stories as die 16-jarige (binnekort 17-jarige) bekendstaan, jy sal netnou verstaan hoekom.

Hy wil na ‘n dans gaan en gisteraand word ek dringend nader geroep: “Mamma sal my moet leer dans, ek gaan nie, tensy ek kan dans.” Vir twee jaar pols ek hom al om my toe te laat om hom te leer, maar is nog altyd net laggend en met rollende oë weggewys. Die nuwe wending is dus vir my nuut en erg opwindend. Soos ons ‘n 16-jarige al ken is wag nie in sy woordeskat nie, gisteraand al moet ons dus die dans-ding aanpak. Blom en Kleinman is ewe opgewonde en die skottelgoed is skaars weggepak of die sitkamermat word opgerol. Die Hoof dui aan dat hy op die bank gaan lê aangesien hy beslis nie na ‘n lang, moeilike dag aan ‘n toontrappery gaan deelneem nie.

Dit word inderdaad ‘n bietjie van ‘n toontrappery, veral met die musiek waarop die mannetjie wil leer dans. Dinge raak al beter en toe ons my gunsteling groep, Bad Boys Blue, aansit raak die dansery sommer lekker. Ek moet op my tone staan om mooi vashouplek om sy nek te kry. Nes ek seker is ons lyk prentjie mooi, tel hy my pens en pootjies in sy arms op en begin my in die rondte tol. ‘n Harde baard krap my wang wat teen syne rus, teen sy bors hoor ek‘n bulderende mannerige stem lag en vir geen oomblik voel ek bang in twee sterk arms wat my vashou nie. Vir ‘n oomblik wonder ek hoe het dit gebeur. Hoe is dit moontlik dat die kleine baba wie ek in die einste sitkamer aan die slaap moes dans, my nou met soveel gemak optel? My oë geknip toe is hy groot, en ja, ek dink nie ‘n harde baard, sterk arm, groot stem mens is meer ‘n tiener nie. Vanoggend vroeg-vroeg is ek by Sy voete.

“Here, hy het ‘n stuk mens geword. Vanoggend wil ek U dank vir die voorreg om hom groot te maak. Was of is nie aldag maklik nie, maar Here as ek na hom kyk en hom soms beleef in die wêreld buite ons huis is ek so trots. Ai Here, vanoggend het daar mamma’s wakker geword sonder hulle kinders, Hulle sou wat wou gee vir nog een dansie saam. Dis ondenkbaar vir my, maar ek weet aan ons is hulle net geleen. Vader druk vanoggend elke seer en leë mamma teen U vas en hou hul daar vir so lank dit nodig is en hul weer kans sien. Elke dag met ons kinders is nét genade en vanoggend dank ek U vir vandag se genade.”

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page