top of page

'n Ma se preke...


Gister sy laaste rugbywedstryd vir die jaar gespeel. Die eindtelling was nie wat hy gehoop het nie en die ou lyfie wat netnou nog ‘n opponent geduik het dat hy daar trek, snik nou teen sy pa se bors.

In die motor op pad huis toe praat hy my deur die hele wedstryd. Wys foute uit en kasty homself oor tackles wat hy glo gemis het. Ek laat hom begaan, daar is ’n tyd vir stilbly en ek weet nietemin dat niks wat ek nou sê enige berusting gaan bring nie. Tuis moedig ek hom aan om lekker te gaan stort, water oor ’n lyf, glo ek, maak alles beter.

Na ’n bad en ’n bord kos lyk die gemoed stukke beter, enige ma se wenresep. Hy het te vertelle dat hy in sy af seisoen bietjie wil werk aan sy nekspiere, vir die skrum. Hy wil sy rug versterk en moet uitvind hoe hy sy knieë, besering vry kan hou.

Ek druk ’n Kleinman, wat vining besig is om my in te groei, styf vas, ek bly steeds stil. Wil hom nie vertel dat ek eintlik skelmpies bid dat sy bou vinnnig moet verander sodat hy uit die skrum kan kom nie. Nee, toe ek hom in die bed sit vertel ek hom eerder dat hy kan leer van rugby, want dis baie soos die lewe.

Die lewe gee bitter min af seisoene, daarom moet jou nekspiere deurentyd geoefen en sterk bly en dit doen ons deur op te kyk. Altyd die Groot Afrigter se oë te soek. Joune gefokus te hou op Hóm wat die wedstryd van die lewe in Sy hand hou. Slegs dan bly jou nek sterk en sonder beserings. Rugspiere word gespierd en soepel wanneer jy jou medemens help dra aan pakkies wat te swaar is, ons is immers gemaak om mekaar se laste te help dra.

Jou knieë gaan nooit probleme gee as hulle gereeld in gebed voor ons Afrigter kniel nie, want dis by Hom wat ons moed, hoop en oorwinning vir die wedstryd van die lewe gaan kry, daagliks.

’n Kleinman hou sy gesiggie sodat ek die gebruiklike klomp soene daaroor plant en toe ek omdraai om uit te loop hoor ek saggies: “Mamma hou van preek.”

Ek fluister glimlaggend terug: “En die wat ore het, moet luister.”

Mede-Ma, hoop nie my preke verveel jou ook nie…;-)

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page