top of page

'n Ma wonder oor stilte tyd...


Word bietjie stil…In stil word tye vind mens krag…

Die laaste keer toe ek enige mate van stilte beleef het, was toe die oudste ‘n baba was, dis nou bykans sewentien jaar gelede. Tensy ek in die middel van die nag sou opstaan, is stilte my nie beskore nie.

Jy ken moontlik die scenario. Soggens doen ek moeite om so ‘n halfuur voor almal op te staan, as ek so regop sit met oë nog toe, net om wakker te word, hoor ek die Hoof: “Drink ons gou ‘n koffie’tjie?” Meedoënloos gebeur die “kry die kinders betyds by die skool roetine” en midde hierdie roetine gebeur niks in stilte. Ná die laaste een wat ek afgooi by die skool, ry ek werk toe en my werksroetine bevat ook nie enige mate van stilte nie.

Smiddae poog ek om stilword oomblikke te skep, maar dit ontaard op sy eie in ‘n hengse gemors… Die 16 jarige leer homself op Youtube klavier speel (wens hy was so gefokus met skoolwerk) die getokkel is afgryslik. ‘n Blom se nuutste gunsteling is die Beatles plate, waarmee sy voorts die pianis probeer uitdoof. Kleinman gooi uit verveling vir homself ‘n tennisbal teen die buitenste muur (van die vertrek waar ek probeer stil word).

Nodeloos om te sê besluit ek om maar die stilte binne myself te vind. Ek probeer op maat van die Beatles se “Yellow Submarine” verstaan hoe Daniël so vas kon staan in sy geloof op pad na die Leeukuil. Die 16 jarige se onaardse getokkel skep ‘n absoluut dramatiese atmosfeer vir die oomblik wat Koning Darius besef dat ‘n magtige God kon keer dat honger leeus een van sy volgelinge opvreet. Terwyl ek Hom dank dat Hy vandag nog soms die honger leeus in my lewe se bekke snoer, storm ‘n Kleinman my stilte binne, want hy is regtig nou honger en hy wag glo nou al vreeslik lank.

Ek smeer ‘n broodjie en vergewe my vyand, was skottelgoed en bely my sondes, en skielik kom ek tot die besef dat die stilte werklik hier binne my behoort te lê.

Mede-Ma, Hy verstaan, Hy ken jou omstandighede en weet as stiltetyd jou nie nou beskore is nie. Gebruik Sy stilte binne jou, bewaar dit soos ‘n kleinood, want dit gaan jou krag en sterkte wees in leeukuil-dae...

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page