top of page

'n Ma voel bietjie wiskundig...


‘n Wiskunde liefhebber is ek gewis nie. Dit vat my immers baie tot vreeslik lank om die vergelykings en formules te verstaan en onder die knie te kry, indien ek dit wél onder die knie kry. Op skool was hierdie vak vir my ‘n lang en eensame worsteling. My emosies oor wiskunde kon ek perfek verwoord op papier, maar helaas die somme self wou net nie uit my pen vloei nie . Hoekom sou dit dan nou wees, dat ek, weerbarstige wiskunde-hater, tans wens dat kinders grootmaak bietjie meer soos wiskunde kon wees? Moet die feit wees dat ek daagliks met die Gr 8 se wiskunde gekonfronteer word. Daagliks moet stoei tot ek dit effens verstaan en dan dit aan die Gr 8 verduidelik. Dit nóu vir my so duidelik is dat elke som ‘n absoluut regte of verkeerde antwoord het. Dus, was kinders grootmaak soos wiskunde kon daar vir elke moeilike vraagstuk ‘n korrekte formule wees.Geen gewonder nie, net klinkklaar: a x b = ab. Die antwoord sou voor die hand liggend wees en geen getob of dit dalk ac of ag kon wees nie. Groot emosionele kwellinge sou onnodig wees. Ek sou nie knaend stres dat my eie uitgedinkte antwoord iewers skade kon berokken nie, want ek sou mos die formule ken, en voorts gemaklik by my een enkele antwoord uitkom. Helaas, is kinders grootmaak en wiskunde nie pasmaats nie en ek wend my eerder tot Sy Wysheid. Ek hoor by Hom van twee belangrike formules in Sy woord: 1. Ek moet 70 x 7 keer vergewe, myself ook, vir die foute wat ék in die ouerskapsproses gaan maak, net soos Hy mý ook daagliks vergewe. 2. Hy al my verskriklike, baie foute by die Kruis gelyk maak aan nul deur Sy bloed.

Nét dit…geen moeilike algebra nie. Weer verstaan ek dat die formules vir kinders grootmaak by Sy voete verkry word. Indien ek beréid is om daagliks, op Sy skoot, met my oor reg teenaan Sy mond te wees, is daar ook net één regte antwoord…Altyd.

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page