top of page

'n Ma se gebed vir 'n klipperige pad...


Here, ek weet almal kry soms hierdie klipperige-pad-dae. Sommer al skuins voor ontbyt het ek die eerste hengse klip herken. My dag word een van, té groot klippe wegrol, fyn simpel grys klippies uit my skoen skud en tussendeur op van die heel groot klippe gaan sit in moedeloosheid. Halfpad deur my geworstel en kou aan my klippe bevind ek my, op my knieë voor U. Vertel ek vir U, dat ek nie altyd sulke moeilike dae verstaan nie. Spreek versigtig my misnoeë uit oor die gestoei met, wat voel soos rotse, op onsinnige plekke. Wonder voor U, of ek regtig nodig het om met die grysies in my skoen gekonfronteer te word om karakter te bou. Teem betraand by U oor die oponthoud wat die klippe bring, ek kom aan niks... Gelukkig het ek egter die diepe wete dat U my verstaan, my ken. U hou my stywer vas en laat my seer geswoegte spiere ontspan. Wyl ek rus in U liefdevolle teenwoordigheid hoor ek van baie nodige, klipperige paaie. Paaie wat effe stram en moeilik is. Paaie wat U verseker laat weet dat ‘n besige Ma by U sal moét kom rus. Ek leer dat die ergerlike irriterende grysklippe in ‘n skoen veroorsaak dat ‘n Ma net moét rem. Verstaan ek dat moedelose tye hierdie Ma knus op U skoot laat sit om moed te kry, asem te skep...Ek dank U dan woordeloos my God, want al verstaan ek nie heeltemal alles nie, weet ek, U bly getrou. U het my lief en glo ek Ps 18:30(Amplified) wat sê: ‘As for God, His way is perfect. The word of the Lord is tested and tried, He is a shield to all those who take refuge and put their trust in Him.’ U kind sien weer kans en bly dankbaar selfs vir klipperige-pad-dae. Amen

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page