top of page

'n Ma se seerkry gebed


“Here, U weet ek staan met ‘n voet in elke kamp. Die een van ‘n kindjie wat goed presteer, die ànder van ‘n kindjie wat nie só groot is op die akademie nie. U weet hoeveel maal ek al op die dag van rapporte kry, moes probeer ophemel aan die een kant. Anderkant, die klein bragger effe stil maak. U ken dus my worsteling. Weet, ek kom ‘n lang pad. Vandag bietjie wyser, hanteer ons dit in ons binnekring sodat dit vir almal werk. Daar buite is dit nog ‘n uitdaging. Here, dis nie maklik wanneer ‘n oulike, trotse mamma ,voor my “nie-presteerder” kind, haar kindjie se uitstaande prestasies uitlig nie. ‘n Ma wat haar kind se gesig lees se hart breek stukkie vir stukkie. U weet hoe ek dan oogkontak probeer maak en bid my kind lees die boodskap en seine in my oë reg. Hoop op daardie stadium dat hy my preke onthou van: Jy het hope ander, besonderse kwaliteite. Jy is nié die punt op jou rapport nie. Jou liefdevolle bruin oë en sagte hart smelt soveel klipharte. Die heldeverering wat klein kindertjies vir jou het spreek vanself…U weet dat ek die effense hang in die skouertjies wanneer hy wegstap sien en dat ek wens ek kon vir hom sy eie wêreld skep. Een, waarin hy weet, sonder enige sweempie van twyfel, dat hy ‘ok’ is nes hy is. Dít Here, kan ek egter nie doen nie. Ek kan slegs dag vir dag, my kind voor U hou en smeek dat U hom die waarheid oor homself sal leer. Vertrou dat hy eendag hierdie waarheid sal omarm en sy volle potensiaal in U bereik. Dankie dat U hom liewer het as wat selfs ék ooit kan en dankie dat U ‘n Ma se hart so goed verstaan. Amen.”

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page