top of page

'n Ma se vuil voorruit


Ons almal ken die frustrasie van ‘n vuil motorvoorruit. Die gesukkel om behoorlik deur te kan sien laat jou met hoofpyne en gespanne skouers. Binnekant kan jy met ‘n lappie, die wasem wat vorm as gevolg van jou angstigheid, afvee. Die buitekant is egter die groter probleem. Dié, wat voel soos duisende gogga’s se “guts”, jou venster vol. Hiérdie, die hope klein frustrasies van die lewe. Rekeninge wat betaal moet word, die wetenskaptaak wat soos ‘n berg voor jou lê, die swembad se kleur wat alewig inskakeer by die gras in plaas van die bloue hemel, die Labrador wat blyk om weer tandvleisinfeksie te hê aangesien hy alles denkbaar vreet, namiddagroosters wat onbehoorlik is, ons kan vir ewig aanhou met die lys. Hoewel die vuilgeid so frustrerend is, is die motor nooit vir lank genoeg geparkeer vir ‘n behoorlike skoonmaak nie. Op ‘n môre merk jy dan die pieperse klein gaatjie wat ‘n krakie begin maak…jou hart wil breek, want dit is só totaal onnodig, en kon verhoed wees sou jy vroëer die gaatjie kon raaksien. Die venster is egter té vuil en jy word met die krakie gekonfronteer soos wat jou klein bruinoog vertel dat hy slegs moes toekyk hoe die kinders in die klas kuns doen, aangesien jy vergeet het om sy kunsgoedjies te koop en in te pak…Dit voel bietjie of die motor se wiele ook nou sommer wil afval. ‘n Paar middae later bars ‘n ma se voorruit egter behoorlik oop toe sy, ‘n halfuur na sy swemles alreeds verby is, eers onthou om haar Gr 3 te gaan haal…iets wat nog nooit met haar gebeur het nie en sy gesweer het ook nooit sou nie. ’n Ma parkeer ‘n motor vir meer as net ‘n paar minute. Sy kom tot ruste knus by Sy voete en lê al die gogga gemors, krakies en barste bloot voor Hom. Sy ervaar tasbaar vir Mattheus 11:28 in die Amplified: “Come to Me, all you who labor and are heavy-laden and overburdened, and I will cause you to rest. [I will ease and relieve and refresh your souls.]”

Haar voorruit lyk weer blinkskoon en heel, sy bly deeglik bewus van daaglikse gogga gemors. Sy besef egter opnuut haar totale afhanklikheid van die Groot Skoonmaker, en die noodsaaklikheid van haar daaglikse, behoorlike rus by Hom…

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page