top of page

'n Ma dink aan abdikeer...


Wanneer ‘n gesin bevoorreg genoeg is om ‘n opgroeiende Blom in die huis te hê, is daar sekere dinge wat die gesin moet aanvaar. Die meeste is heerlik, verfrissend en laat mens meestal met ‘n goedvoel glimlag om die mond. Net hier en daar is ietsies wat die gesin saam moet deurbyt...letterlik en figuurlik. Een hiervan dan is haar ontluiking as kok. Ons Blom betrek deesdae die resepteboeke en dit bly nie by die gebak soos ek gehoop het nie. Die nuutste gier is om kos te kook. ‘n Lysie met bestandele word my in die hand gestop en ek word liefies ingelig dat sy die volgende aand verantwoordelik is vir die aandete. Ek word nie regtig toegelaat om die resep self onder oë te kry nie. Die lysie lyk in my opinie bietjie effentjies, maar ek vermoed dis seker meestal goedjies wat ons reeds in die huis het. My Blom doen mos haar huiswerk en navorsing goed. ‘n Aandete verloop met ‘n keurig gedekte tafel, naamkaartjies en blomme. ‘n Groot, baie groot opdienbord vol hoenderrepies wat in die oond gedroog…ek bedoel gebak is, en twee heerlike sousies om dit in te doop. ‘n Tiener is opgewonde, die kos lyk baie en hy smul, op die ouderdom eet hy enigiets wat voorkom letterlik…en genadiglik. Die Kleinman dui heel taktvol en teen sy aard aan dat hy na probeerslag nommer twee, wat doodgegooi was met tamatiesous, versadig is. My Hoof trap elke nou en dan my voet onder die tafel lam en beduie dan met groot oë dat hy werklik nie kans sien vir nog nie. Een kykie egter na ‘n selfvoldane Blom met ‘n strikkie in die hare en ‘n groot glimlag, wat as gasvrou aanbied, “Kom kry vir julle nog?” en ‘n Hoof eet net soveel sy wil hê hy moet. Laataand in die bed met ‘n koffie in die hand hou ons nabetragting. ‘n Dierbare, honger Hoof moedig my aan om ons Blom al die geleenthede te gee wat ek kan, maar om asseblief ‘n Plan B gereed te hê. Met ‘n honger magie, maar ‘n vol hart dank ek Hom vir ‘n Blom in ons lewe. Ek vra Hom met ‘n effense tong in die kies om ons opofferings te seën met ‘n Blom wat binnekort vir ons feesmale gaan kook. ‘n Ma sien solank uit om eendag as kok te abdikeer…;-)


Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page