top of page

'n Ma voel nie altyd tip top nie...


Ek lees in ’n tydskrif ’n stukkie waar die skrywer praat van ons almal wat daardie een vriendin het wat altyd

alles onder beheer het, haar wêreld is altyd tip top.

Ek lees tussen die lyne dat dit nie noodwendig die skrywer se gunsteling vriendin is nie...

Die stukkie draal in my kop en rol in my gedagtes rond. Ek word bang dat mý stories soms daardie beeld mag uitdra, dat die lesers van my blog sal moeg raak en dink ek is ’n fake. Diep in die nag lê ek en tob, vanoggend besluit ek om die sluier effe te lig. Jou te vertel dat rotsstortings redelik algemeen is in my huis. Die rotse val hard en die stukke wat weg spat maak wonde, soms net piepklein, maar wonde nietemin.

Daar is ook heelwat vuurspuwende berge, party berge spoeg elke liewe dag en laat my trietsig voel. My nerwe bly dun en die hitte in die atmosfeer is soms versmorend. Daar is ook heelparty ligte aardbewings en almal binne die radius van die fout lyn word op een of ander manier geraak.

My punt? Om jou te laat dink dit gaan vrot sleg by ons? Nee, liewe mede-ma dit is om jou te vertel, in my huis is alles erg normaal, met hier en daar dalk ’n abnormale neiging. Ek wil jou laat verstaan dat ten spyte van die rotsstortings met sy meegaande wonde, dit nie diep letsels sal laat nie. Die berge wat te veel woedende hitte het om uit te laat, sal uitwoed en eendag ’n pragstuk wees om te aanskou. Aardbewing dae sal in die verre toekoms net ’n gedagte wees en ek sal met trots onthou hoe ek vasgestaan het in daardie moeilike dae. Hoe weet ek dit alles? Hy het my belowe. Elke liewe dag wanneer ek myself aan Sy voete werp en vra of kan Hy asseblief liewer die pad net maklik en glad maak dan kom sy belofte. Liefdevol en met soveel empatie verseker Hy my dan: Heb. 13:5b Amplified “I WILL NEVER [under any circumstances] DESERT YOU [nor give you up nor leave you without support, nor will I in any degree leave you helpless], NOR WILL I FORSAKE or LET YOU DOWN or RELAX MY HOLD ON YOU [assuredly not]!”

Hierdie woorde, liefste mede-ma, dra my dag vir dag. Dit gee my moed om nog ’n duisend aardbewings te face. Meeste van als egter, gee dit my die vermoë om jou as blogger-vriendin te bemoedig. Aan te moedig om vas te staan en vas te byt ten spyte van al ons, as ouers, se daaglikse uitdagings. Mag Sy woorde jou vandag ook, soos vir my, die moed gee om aan te gaan al is alles nie altyd onder beheer en tip top nie...

Liefde

Jou, alles behalwe, tip top vriendin. ;-)


Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page