top of page

'n Ma en 'n boelie maak vrede...

Vir ‘n tyd lank al vertel hy my van die boelie by die skool.

Ek kry net soms sulke brokkies, maar nie genoeg om iets daadwerkliks daaraan te doen nie. Siende dat sy ervaring daarvan ook nog nie vir my té intens is nie, besluit ek om dit wel goed te monitor.

Op ‘n dag na skool wag ek, soos gebruiklik, buite die skoolhek toe ek die insident eerstehands sien gebeur. Sien hoe Boelie my kind teen die muur vasdruk sodat hy nie by die hek kan uit nie. Die Blom en ‘n maatjie is reeds in die motor en met ‘n, “Wag julle net hier!” is ek by die motor uit. Wyl ek die hek nader in my woede, fladder my gedagtes deur die boek van James Dobson ‘Om seuns groot te maak’.

In swart hoofletters sien ek waar hy ouers aanraai om nie sélf in te meng nie, dis egter reeds te laat… ek is reg by Boelie. Dis ‘n groot kind en ek wat nie danig lengte het nie kyk op na hom. Vat sag aan sy arm en in my kwaai fluisterstem stip ek vir hom uit: “Jý raak nooit, ooit ooit weer aan my seun nie, dan is daar groot moeilikheid, verstaan jy vir my?” ‘n Boelie loer rond, maak keel skoon en sê: “Jammer tannie, dis reg so tannie.”

Terug by die motor is almal tjoepstil. By die huis gekom sit hy ‘n rukkie langer in die motor, met die twee oë vol trane. “Mamma moes dit nie gedoen het nie.” Ek vat sy gesiggie tussen my hande en fluister: “Ek is jammer, maar wanneer ‘n Mammabeer se kleintjies lyk of hulle in gevaar verkeer dan dink sy nie…” Hy glimlag effens en sê hy verstaan. ‘n Ma voel egter nie so selfversekerd oor haar optrede nie.

‘n Hele paar maande later en by navraag verneem ek dat Boelie blykbaar selfs nie eens oogkontak maak met die mammabeer se kind nie. Op ‘n dag is daar ‘n skool verkoping en ek moet help. Vele gesiggies kom en gaan by mý wat die altyd gewilde koeldranke verkoop.

Toe ek weer ‘n slag opkyk staan Boelie reg voor my. Hy maak geen oogkontak nie, gee net vinnig sy bestelling en begin solank in sy beursie krap vir die regte geld. Vir ‘n rukkie hou ek die koeldrank vas, toe hy opkyk in my oë, glimlag ek, gee dit vir hom en sê: “Daarso seunskind, geniet jou dag.” ‘n Boelie kry ‘n klein glimlaggie om die mond en wens my dieselfde toe. Soos hy wegstap vra ‘n Ma: “Beskerm hom asseblief, iewers in sy lewe word hy ook afgeknou, ek weet nie maar U weet. Hou hom vas en help hom om die jongman te word wat U bedoel het hy moet wees. En Here, vergewe asseblief ‘n ma wat beerwyfierig opgetree het sonder om eers vir U wysheid te vra.” …;-)

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page