top of page

'n Ma se foute...


Hoekom skuldgevoelens mens altyd in die nag moet bekruip weet ek nie. Wanneer hulle soos engeltjies ewe met ’n stralekransie om die kop rustig lê en slaap word ek jammer.

Jammer, dat ek haar vanoggend verskree het toe sy nie weet waar haar gom is, wat ek net nou die dag gekoop het, nie. Sý wat altyd weet waar haar goedjies is, sý wat my nie enige probleme gee nie.

Ek word ook skaam. Skaam dat ek hom so kan uittrap soggens oor hy net so ’n klein bietjie langer as die normale tyd neem om tande te borsel en hare te kam, ons dan té laat na my sin skool toe ry. Hy wat gesteld is op sy hare, van kleins af al, en ’n baie streng roetine met tandeborsel het.

En dan word ek moeg. Moeg vir myself, wat steeds soos ’n helikopter oor ’n Tiener hang, elke handeling van hom met harde propeller geluide volg en bitter min erkenning gee aan sy ongelooflike kwaliteite.

Wanneer ek dan in die nag met my hopie skuldgevoelens voor Hom kom, is ek so dankbaar vir Sy genade. Dankbaar dat Hy my gerusstel en verseker dat ek net ’n mens is met baie foute. My egter herinner dat daar altyd ’n kans is vir regmaak, askies sê vir die een wat ek te nagekom het en van vooraf probeer.

’n Blom se vergifnis kom saggies en gemaklik. Sy haak by my in en vra hulp met die skryf van ’n gedig. Ons pret is onbeskryflik en my jammerte gaan oor in vreugde. ’n Kleinman gee twee diep dimpels as blykie dat my verskoning aanvaar is en ek kry ’n ekstra lang drukkie wat ek koester. Dis moeiliker om my helikopter gedrag aan ’n Tiener bloot te lê. Ek probeer nogtans en kry ’n kamstige kwaai frons gevolg deur ’n diep stem vol lag wat te vertelle het dat dit net nooit weer moet gebeur nie... Hy gaan my glo watch. ’n Ma se hart is weer kalm, skuldvry. Ek weet sommer dit gaan nie baie lank hou nie, daarvoor het ek heeltemal té veel foute. My dankbaarheid lê egter in die feit dat ek kan jammer sê en dat daar in my huis hope genade is vir ’n Ma met foute...

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page