top of page

'n Ma en matrassies


Die Hoof van ons huis pak ‘n nuwe projek aan wat vereis dat hy nagskof werk. Ek is só dankbaar vir die werk na ‘n lang droogte.

Eweneens is ek egter gespanne oor hoe op aarde ons die skedules nou gaan laat uitwerk onder die – vir ons – vreemde omstandighede.

Die drie kinders dink my tweestryd is oor ek alleen moet slaap en voor ek weet word die matrasse flink na ons kamer gedra. Een mag in die bed lê tot Pappa terug is vroeg soggens, dan klim hy net oor op sy matras. Oor naweke egter werk die Hoof gedurende die dag, maar die matrassies bly. Ons skimp dat hulle eintlik na hul eie nessies kan terugkeer, maar helaas. Die ander aand is my emosionele tenkie dolleeg, die introvert in my het dringend my spasie nodig. Ek kan nie langer in ‘n tou staan om tande te borsel, oor twee matrasse val voor ek die toilet bereik en wag dat die Tiener eendag klaar lees voor ek die liggie mag afsit nie.

Toe almal, die Hoof ingesluit, ten einde laaste tot ruste kom, die lig af is en ek net die ruskans in my Hoof se arm waardeer hoor ek die harde fluisterstem van Kleinman: “Pappa, kan ek bad?” Hy wou vanaand varkie aand, na vele aanmoediging van my kant niks weet van bad nie en nou... nou wil hy bad. Die lig weer aan en die hele gesin wag dat die Kleinman klaar kan bad.

Sonder enige omhaal van woorde vertel ek hulle hoe elke matras môre by my kamerdeur uit gaan vlieg. Toe ons die oggend wakker word en koffie in die bed geniet met ons oë op drie slapende lyfies om die bed, fluister die Hoof: “Ag skat, moenie die matrassies wegvat nie, ons weet nie vir hoe lank sal hulle nog so by ons wil slaap nie, netnou is ons eendag spyt.” Toe ek later die oggend weer oor twee matrasse strompel in ‘n poging om by my stil word plekkie uit te kom, weet ek die Hoof was reg. Talle dinge wat op ‘n bepaalde tyd vir ons ‘n ergernis was, is juis die dinge wat ons vandag mis en spyt is ons het nie toe waardeer nie. Ek maak elke matrassie op en glip ‘n blokkie sjokolade onder die kussing in. Matrassie-dae gaan verby, ek kan dit net so wel memorable maak vir hulle...

So ook liewe mede-ma gaan doeke en bottels, tweejarige tantrums en tiener dae verby, kom ons maak dit memorable.. ;-)

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page