top of page

'n Ma kry 'n helpertjie...


Die kinders het Moedersdag verkope by die skool en ek gaan help Eerste pouse. Dis kophou met wat voel soos honderde handjies wat geldnote na my uit hou.

Mettertyd tussen kleingeld uit my kop probeer uitwerk en fokus om te weet wie ek eerste moet help voel ek ‘n lyfie hier styf teen my. Ek kyk vinnig af om te sien of dit dalk een van my eie mensies is. ‘n Klein blonde bolla-kop lyfie met ‘n brilletjie kyk stip na my en sê: “Ek wil jou help.” Vinnig verduidelik ek dat sy nog te klein is, dat eintlik net die Graad sewe kinders mag help. Bolla-kind staan vas.

“Ek is al groot, ek word die jaar agt.” My hart smelt. Ek sê sy mag my help, maar nie met die geldjies werk, dit moet sy vir my gee. Haar hulp bestaan daaruit om aan my hemp te pluk elke nou en dan en te sê: “Help daai een,” en dan met die vingertjie te wys wie my volgende kliënt moet wees.

Toe dit so bietjie stiller raak moedig ek haar aan om ook vir die kinders te vra of sy kan help. “Nee, ek dink nie ek kan dit doen nie.” Kom die onseker antwoord. Ek sit my arm om die klein lyfie en sê: “Wel, jy het die moed gehad om my te kom vra of jy kan help, het jy nie? En hierdie is jou maats dit behoort baie makliker te wees.” Die lyfie staan effens meer regop en sy pluk aan my hemp. Toe ek na haar kyk sê sy: “Ek dink jy is reg ek dink ek kan dit nou doen.” Ek help haar om iemand se aandag te kry en sy verkoop haar eerste en enigste item. Toe die kinders begin opdroog vra sy. “As ons klaar is gaan jy vir my ietsie gee?” Ek glimlag: “Ouvrou, mens kry nie altyd ietsie vir jou hulp nie, jy weet dit mos.

Ek en jy doen hierdie sommer vandag omdat ons mooi hartjies het en die skool wil help of hoe?” Sy loer na die geld boksie en sê: ”Jis, die skool is ryk , kyk daar.” Ek buk af kyk vas in Bolla-kop se oë en sê: “En om te dink ek en jy het gehelp om die skool so ryk te maak, ek voel sommer nou goed en jy?” My boodskap het haar waarskynlik nie heeltemal oortuig, maar toe die klok lui kry ek ‘n stywe spontane drukkie. Soos sy weghardloop skree sy: “Sien jou tweede pouse!” Sy het my nie kans gegee om te noem dat ek nie weer terugkom nie, maar sy het my laat dink...

So baie in my lewe staan ek so styf teenaan Hom, dring daarop aan dat ek volwasse genoeg is om die volgende verantwoordelikheid te aanvaar. Ek wil Hom dan graag voorsê en beduie hoe ek dink ons dit moet doen. Sou Hy my aanmoedig om nou self te probeer, is ek dan ewe te vertelle dat ek nog nie reg is nie...dit ná my gekerm en smeek. Ek kry dan hand-aan-hand met Hom my eerste taak uitgevoer en verwag dan onmiddellik vergoeding, ‘n klop op die skouer, ‘n groot dankie voor skares.

Wanneer Hy dan my gesig in sy hande neem en my vertel dat ek doen wat ek doen uit gehoorsaamheid aan Hom, tot Sy eer en absoluut onvoorwaardelik, dan word ek skaam. Al wat oorbly is om my hemelse Pa ewig dankbaar te wees vir sy onuitputlike geduld en genade met my. Ek kan slegs aanhou probeer om Hom te behaag deur my dag tot dag wandel mét Hom en saans voor ek my oë sluit te sê: “Sien U môre! Ek gaan weer probeer!”

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page