top of page

'n Ma kry 'n "Time-out"...


Toe ek die woorde: “Ek vat ‘n time – out!”, in my sagte dóg giftige stemtoon uiter, kyk drie paar verbaasde oë my aan. Hulle staan gewoonlik aan die ontvangkant van ‘n ‘time out’.

My woorde klink waarskynlik nou totaal onvanpas. Met drie monde wat stadig oopval gaan ek gifferig voort. “Vir my is dit amper so krities noodsaaklik soos ‘n ‘power nap’…dus, niemand, niémand pla my nie.” Met dit gesê stoom ek met ‘n beker koffie in my hand, uit op ons stoep. Net daar plat op die trappe maak ek my tuis. Sou ek vir een minuut langer in die huis bly, mog ek dalk moor.

Daar drentel ‘n super intelligente en alwyse tiener, ‘n Blom wat nukkerige tiener byklanke begin maak en ‘n ‘oormoeg – het – nie – lus – vir – huiswerk - Kleinman rond. Buite is onweer in die lug, kompleet asof die natuur poog om my innerlike storm, na te boots. In sulke oomblikke soek ‘n ma ontlading vir haar stormagtige gemoed. “Here, ek het hulle liewer as lief, maar daar is hierdie dae…

Dae wanneer ek nie altyd so seker is of ek ‘n voorbeeld is nie. Dae, waar ek dinge sê wat kon gebly het. Wanneer ek vergeet dat ek veronderstel is om volwasse te wees. Ag Here, maar dankie vir ‘time –out’ tye saam U. Dankie dat U my hart ken en verstaan, dat U gemaklik vergewe. Wanneer ek nou terug stap in my huis vra ek vir U kalmte en vrede wat alle verstand te bowe gaan soos U in die Woord belowe. Amen.” Asof die natuur steeds met my gemoed saamstem kom die koelste, lafenissie van ‘n briesie oor my gewaai.

Ek word terug verwelkom, geen teken van tiener geite, of moegheid nie. Hulle beloer my wantrouig en toe hul absoluut seker is daar gaan geen ontploffing wees, blyk hulle te ontspan. ‘n Paar reëndruppels begin huppel op die stoep se sinkdak en my drie lê gemoedelik en gesels in my kamer op die bed…Time – Out vir ‘n Ma is glad nie ‘n slegte idee nie, probeer dit gerus…;-)


Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page