top of page

'n Brief aan 'n Kleinman...


Met twee tieners in die huis gaan dinge nie altyd lekker of selfs nie eens relatief gemaklik nie. Emosies blyk alewig in die pad te wees.

Praat nie van testosteroon en estrogeen vlakke wat gevaarlike hoogtes bereik wat niemand anders behalwe my in trane kry nie. Op ‘n dag toe ek redelik moedeloos is vir al die hormone in my huis is, skryf ek ‘n brief vir die een wat my tans die meeste vreugde verskaf. Ek sal die brief oor en oor lees eendag as hy my ook dalk teen die mure uitdryf. ;-)

My liefste Kleinman

Wanneer ons twee alleen is glip jou handjie nog vrywillig in my hand, strengel jy jou kort vingertjies gemaklik deur myne. Drukkies kom totaal onvoorwaardelik en gemaklik. Ek is nog nodig wanneer jy saans moet gaan stort en die ganglig nie brand nie. Met slaaptyd verdra jy my vervelige roetine. Jy streel met storietyd oor my hare en roep my selfs terug vir nog van die klomp soene reg oor jou gesiggie. Die soft toy hondjie genaamd Gino, word nog styf houvas en jou seuntjie stemmetjie is op die huidige oomblik vir my die mooiste geluid in my huis. Jou vuil seunskind voetjies laat my met heimwee terugverlang na nog sulke voetjies wat eens so gelyk het. Wanneer jou hartjie seer is, glip die trane nog oordadig uit, sonder dat jy bang is jou ego kry skade. Jou donkerbruin oë vol onskuld maak mý nog die heldin in jou lewe en as jou vertroueling koester ek die eer elke dag.

My Kleinman, nie so lank van nou, gaan jy my ook telkemale laat skrik wanneer jy met jou growwe tiener stem agter my praat. Ek weet van ‘n tyd waar soft toys stilletjies van kamers en beddens verwyder word en die eienaar dink ek sien dit nie. My hart klop wild in my keel as ek dink dat redelik binnekort ek nie meer die heldin in jou oë gaan wees nie. Vinniger as wat ons dink gaan die slaaptyd roetine vir altyd verander en die idee wil-wil vir my versmorend wees.

Mamma belowe egter om hierdie transformasie nie ‘n emosionele affêre te maak nie. Ek sal nog al die drukkies en soene geniet, elke oomblik van jou seuntjie wees na aan my hart hou. Met trots sal ek toekyk hoe jy ontwikkel in die mens wat God gesien het, toe Hy jou moes maak. Ek sien met verwagting uit daarna om te aanskou wat Sy plan vir jou lewe is, maar vir nou gaan ek net eers genoeë hê in dit wat is en my getob oor jou grootword staak.

Ek is lief vir jou my dierbare, ’enig in sy soort’ Kleinman.

Mamma

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page