top of page

'n Ma en 'n Blom deel 'n geheim...


Ek weet net, dis tyd dat die Hoof terugkom van sy sakereis. Nou ruk dinge hand uit.

Die Vrydag gaan staan ek by ‘n winkel met ‘n pap battery, dít die soveelste aanslag die week, teen my “ek is okay as my man weg werk” masker. Saterdag steek PMS sy mislukke kop uit. Na ‘n ligte woordewisseling met die Tiener is my emosies duidelik sigbaar in waternat strepe op my wange. Die bekommerde Blom raak onnatuurlik besig en ek word ‘n tydjie later geroep. Sy plaas die punt van ‘n bolletjie wol in my hand. Die res lê in ‘n strepie-paadjie voor my in die gang af. Ek word beveel om my oë toe te maak en die wolletjie op te rol tot waar dit eindig.

Behendig bestuur sy my van agter met sagte feetjie woordjies. Die wolletjie paadjie lei tot by my kamer se bed. Toe ek my oë oopmaak is die kosbaarste briefie teen my kopstuk geplak en op die bed, meeste vroue, se beste trooskos – klein blokkies sjokolade in tandestokkies gedruk.

‘n Ma se emosies stroom nou in riviertjies oor haar wange. Die Blom sluit die kamerdeur en ons twee indulge in die paar blokkies soet. Sy gee vir my die meeste blokkies en verklaar in ‘n volwasse wysheid dat alles ok sal wees. Die onderwerp word oombliklik verander en sy begin elke dag se drama wat in haar klas afspeel aan my oorvertel. Toe ons tien minute later stroopsoet en vol giggels die kamer uitkom wag twee brommerige seuns. Die Kleinman wil ontstoke weet wat ons daar binne gaan doen het, “Seker skelm Mamma se chocolates opgeëet né!” ‘n Ma en ‘n Blom knip vir mekaar oog soos twee ware bondgenote. In my tydjie met Hom vra ek dat Hy my asseblief sal help om hierdie kosbare oomblik styf aan my hart vas te bind.

My te herinner, op dae wanneer ‘n Blom se emosies in traanriviertjies verander, dat min dinge help soos kwaliteit tyd, en ‘n blokkie sjokolade. Die res van die dag, ten minste, kon ek beheer neem van my emosies. ‘n Ma en ‘n Blom deel nou ‘n stukkie insig oor vrouens, wat mans net nimmer sal kan kleinkry, ek voel so gebless…;-)

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page