top of page

Soms word 'n Ma se moed bietjie laag...


Ma-wees kan onrusbarende gevolge hê wanneer die betrokke ma aan die einde van haar eie kragte gekom het.

In een enkele dag word ek soms vir dieselfde mensie in my huis so woedend dat dit smaak ek druk sy nek met my kaal hande af. Net om die volgende oomblik in dieselfde hande te huil oor ek die dingetjie so bejammer vir tekortkominge wat blyk om hom met letsels die lewe in te stuur. Snags lê en tob ek oor die uitdrukking op haar gesiggie toe ek weer in voortvarendheid haar bepreek oor ván haar keuses en manier van dinge doen. Wonder ek of die frons wat ‘n strepie tussen die ogies maak dalk al langer daar is as wat ek kon agterkom en of is die frons deur mý toedoen.

Vir ten minste dertien jaar al droom ek van ‘n klein ou wegloop kansie saam met die Hoof. Graag wou ek hom so bietjie vir myself hê en weer voel soos sy meisie in plaas van die alewige Maaaaaa. ‘n Ongelooflike geleentheid duik op en alhoewel ek weet dat dit so reg uit my Vader se hand kom, is ek een styf gespande snaar met spasmas op elke denkbare plek. ‘n Kleinman gesiggie wat ernstig wonder of hy aan die slaap sal raak as ek nie daar is om nag te sê en selfs hardop wonder of die oppasser sal hou daarvan om slaaptyd stories te lees laat my ineens wroeg.

Diep, innig en met nuwe vuur verlang ek deesdae na my ma se raad en wysheid. Met groot respek en liefde fluister ek soms in moedeloosheid in Sy oor dat ek steeds dink haar verhuising na Hom toe was in heel ontydig. In my tydjie met Hom raak ek eers baie stil, wag tot my hartklop Sy hartklop se rustige ritme eggo. Ek sê jammer vir ‘n geteem én oor dit mag klink of ek ma-wees uiters moeilik en frustrerend vind. Verduidelik dat ek moeg en soms oorweldig voel met hierdie oneindige verantwoordelike roeping. Vra of hy my kragte weer sal kom herstel.

My ongegronde vrese en onnodige skuldlas sal verwyder. Hy sal gee dat ek minder irrasioneel na ‘n mensie se tekortkomings sal kyk en vertrou dat letsels wonderlike groei sal verteenwoordig. My veel meer objektief sal laat staan teenoor haar blommerige manier van dinge doen en haar sagkuns te help lei in die maak van beter keuses. ‘n Kleinman te help om my te vergewe vir my wegloop saam die Hoof en eerder trots te wees wanneer hy skadeloos en sterker anderkant uitkom.

Liewe mede-Ma, ek bid vir jou ook, hou goeie moed, dis nie altyd maklik nie, maar ons is in Goeie hande, die hande van die Skepper van die Heelal. xx


Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page