top of page

'n Ma se huis hou aan verander


Met ‘n ontluikende jong meisiekind

in die huis verander dinge vinnig...

Weg is die bondeltjie energie wat deur die huis gesing of gefluit en met ‘n wilde boskasie my ook male sonder tal teen die mure kon uitdryf. Die rabbedoe wat uit haar maag kon borrellag dat dit die skaterlag binne jouself kom los kielie het. Die wille mensie wat male sonder tal kon skree dat die hemele antwoord as sy sou seerkry. Bitter baie dae het ek gevrees as die foon lui dat bure my aangekla het vir mishandeling.

Tans is ‘n Pragtige blom egter besig om haarself te vind binne die mure van ons huis. Dit behels veel minder sigbare energie natuurlik, eerder meer langbeen lê met die neus in ‘n boek. Saans laat, as ek kla dat die lig moet af, vang ek haar skelm met ‘n flits in die donker aan die lees. Die enigste sigbare energie wat soms vorendag kom is as die koek of koekie bak gier haar beetkry en sy sommer vir dae aaneen bak en versier...Skoonmaak agterna is egter nie deel van die prioriteitslys nie. Ons gesin gee egter nie baie om hiervoor nie, ons trek steeds die voordeel. Wat die gesin egter minder waardeer is die nuwe skoonheidsroetine wat die hele huis op ‘n ry voor die toe badkamerdeur laat. Geen dikbek, of skewe woord kan haar egter ontroer as sy blosend , skoon en so welriekend by die badkamer uitstap nie.

‘n Ma hanteer al die genoemde fasette van die nuwe Blom, maar wat my meer as enigiets raak is wanneer sy op seerkry dae nie wille tantrums gooi en onbeheersd gil dat die bure kan hoor nie. Dit breek my hart in duisend stukke as ek die tiener- seerkry in die ogies lees en sien hoe sy so onopsigtelik moontlik ‘n traan wegvee. Die ontluiking laat my baie terugdink aan my eie meisiekind dae en ek bid dat ek haar die rigting sal kan gee wat sy so nodig het.

Ek vra Hom toe:

“Here, sy was sommer nou die dag nog ‘n klein dogtertjie. Ek mis die dingetjie wat alewig onder my voete was, al moes ek haar skoon skrop voor mens aan haar kon raak. Nou Here is sy blinkskoon en pragtig, maar besig om haar eie mensie te word. Ek het nou nodig om te weet waar ek moet nader gaan en waar ek bietjie afstand moet gee. Gee asseblief U Goddelike Wysheid in oorvloed soos wat U sien ek dit nodig kry Here. As ma is ek so bang om foute te maak wat lewenslange impak kan hê, en U ken my ek is goed met foute maak.

Hierdie tyd in my tiener meisiekind se lewe is so belangrik Here, en ek het U nodig. Maak my asseblief sensitief vir U influisteringe dat ek sal luister wanneer U praat.

Dankie vir ‘n Blom Here, en dankie vir die voorreg om as Ma hierdie transformasie te mag aanskou.

U dankbare kind.

Amen.”


Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page