top of page

'n Ma maak 'n vriend...


Kamera in die hand staan ek, besig om myself te balanseer op ‘n paviljoen trappie, tussen wriemelende, skreeuende lyfies. “Ons is die rooies, en as jy nie kan hoor nie dan skree ons bietjie harder, ons is die rooies! En as jy nie kan hoor nie!...” My ore tuit behoorlik op hierdie Interhuis van die Blom en Kleinman se skool. My rug wil afbreek, met ‘n handsak vol kos vir die twee oor een skouer en die kamera sak oor die ander. Ek voel ‘n sagte pluk aan my baadjie en kyk af vas in twee groot, groen oë. Die maer lyfie kan nie ouer as Graad 1 wees en die blonde haartjies wip agter by die kroontjie op van ‘n lekker nag se slaap. Met ‘n tongetjie wat nog nie behoorlik die “r” bemeester het nie vra hy: “Jufflou...jufflou, kan ek gou klas toe gaan, ek is sooooo hongel en moet my kos gaan kly.” My hart smelt en ek voel om nie dadelik my eie mamma-identiteit bekend te maak nie, dalk maak dit hom verleë. Vinnig verduidelik ek dat hy so klein bietjie moet uithou, want pouse gaan oor ‘n rukkie wees dan kan hy gou klas toe gaan. Veel later, met ‘n kloppende hoofpyn van die skril stemme om my en ‘n nagemaakte glimlag vir die Blom, rooi span dirigent, wat telkens vir my beduie waar ek watter foto moet neem, voel ek weer die pluk aan die baadjie. My blondekop leerling is terug en met ‘n groot glimlag beduie hy na sy Spiderman kosblikkie. “Ek het hom gekly jufflou, ek issie meer honger nie.” Ons twee word blitsig beste vriende, hy beduie tussen die geskree en sing vir my hoe sy kosblik in alle rigtings kan vou. Nog later na al die lang afstande reeds gehardloop en die naellope begin het vra hy vervaard: “Jufflou, ek het dan nog nie om die baan gehardloop, só om en om nie, wanneel moet ek gaan?” Dit voel vir my na die ideale tyd om hom te verduidelik dat ek eintlik net ‘n mamma is, maar besluit weereens daarteen, bang hy voel ek het hom al die tyd bedrieg en moedig hom eerder aan om gou sy eie juffrou te gaan soek en haar raad te vra. Nie lank nie en my vriendjie is terug, sy juffrou het hom skynbaar tevrede gestel en hy sing weer uit volle bors en glimlag elke nou en dan na my kant toe. Toe Kleinman klaar aan sy item deelgeneem het kry ek my sakke bymekaar gereed om huis toe te gaan. My vriendjie kyk met ‘n groot glimlag na my en sê: “Jufflou weet jy wat, ool, oolmôle gaan dit Kelsfees wees!!” Ek glimlag en vertel hom dat dit eintlik nog so klein bietjie langer is. Die gesiggie val en ek kan die teleurstelling fel daarop sien. Só vies vir myself oor die onnodige waarheid besluit ek net daar om my identiteit as mamma geheim te hou, wat hy nie weet nie kan hom nie verder teleurstel nie. Hy vra afgehaal of ek dan nou huis toe gaan en toe ek dit beaam sê hy: “Wel dan gaan ek nou maal na my klas toe, want ek dink ek staan al langel as tien minute hiel...Bye jufflou!”

My en my klein vriend se kort verhouding laat my dink en bietjie tob. Ek vra dat Hy my sal vergewe vir die weerhouding van my identiteit. Pleit ook vergifnis vir my vriendjie se teleurstelling na my harde, moontlik onnodige, waarheid oor Kersfees. Die scenario skets vir my ‘n kort opsomming van die hele kinders grootmaak opdrag waarmee ons besig is. Wat ons as ouers doen is soms om hulle te beskerm van seerkry, of teleurstelling, soms wil ons hulle net onnodige harde feite spaar. Nooit sal ons seker werklik weet of dit op die oomblik die regte ding was om te doen nie. Die belangrike wat ek kies om hieruit te neem is egter dat ons, en hopelik ons kinders, altyd sal onthou, dat ons as ouers doen wat ons doen uit suiwer liefde dis al...

En ek is jammer liewe klein vriend oor ek bietjie gejok het en oor ek bietjie te eerlik was...dit was in suiwer liefde bedoel...;-)


Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page