top of page

'n Ma gaan met vakansie...sonder kinders.


Was die afskeid maklik? Het ‘n Ma betraand en snikkend haar bloedjies gegroet? Inderdaad! Die trane was egter gevoed deur verskeie omstandighede. ‘n Beheer vraat word ontneem van enige beheer, ‘n vrees dat ek ontmasker sou word as ‘n Niemand sonder my kinders, angstigheid dat hulle (of van hulle) mag uitvind daar is ‘n beter lewe sonder ‘n helikopter ma. Die Hoof maak soos gebruiklik oral maats en op die lughawe ontmoet hy ‘n regte egte Engelse skrywer. Hy kry haar boek se naam vir my en vertel ewe trots vir haar van sy vrou wat ook skryf. Sy het met ons ontmoeting nie my naam gevra of enige belangstelling in my pogings gewys nie. Dit het nie my huidige identiteitskrisis positief beïnvloed nie... Met die opstyg het ek ‘n Hoof se hand so styf gedruk, gesweer ek sny moontlik alle bloedtoevoer af. Op daardie oomblik het ek so gewens dat ek die ervaring met my drie kon deel. Die verlange het soos soos groot bultende knoppe in my keel opgestoot. Die bruinoog Tiener se laaste stywe druk en die klein bossie bloeisels wat hy in my hand gedruk het voor hy skool toe is laat een knop smelt en ek voel ‘n branderigheid agter my ooglede. ‘n Blom het letterlik elke vyf minute boodskappe gestuur oor hoe goed ‘n Kleinman sy werk vir die volgende dag se toets ken. Toe die laaste boodskap net voor ons op die vliegtuig klim lui, “Oooo jinne hy doen nie nou so goed nie, hy huil iets vreeslik”, het ‘n ek ‘n duisend soene gestuur en die foon afgesit terwyl die branderigheid in die oë in ‘n volskaalse vloed wou verander. Die Hoof het my egter vinnig uit my bedremmelde luim gekry. Saam het ons elke stukkie van die vlug geniet, hoewel my hart tog so klein bietjie wou huil saam ‘n hartseer Kleinman. Ek kon bietjie ingesluimer en toe ek half vyf die oggend wakker word is die verlange fel. Ons vlieg oor die Middellandse see en ek wonder of ‘n oppasser daarin gaan slaag om ‘n Tiener wakker te kry vir skool, dis ‘n hengse missie, maar ek weet dat hy my na alle waarskynlikheid soos ‘n leuenaar sal laat lyk. Oor Marseilles is my gedagtes by ‘n Blom en is ek opnuut dankbaar vir haar omgee vir die Kleinman, al is dit net in my afwesigheid. Die vlug nader Parys en ‘n Ma wonder of ‘n Kleinman al ophou huil het. Sonsopkoms en op die monitor sien ek dat ek 8872km van my mensies is en hou my hart vas. Vir die soveelste keer vra ek: “Hou hulle asseblief styf vas en Here dankie dat U my hierdie plesiertjie saam met die Hoof gun.” Hy was getrou, na twee weke was almal in een stuk. Ek dink kosbare familie wat na die drie omgesien het is poegaai. ‘n Tiener en Blom het my skynbaar geensins gemis nie. My vermoede is egter dat die enigste eerlike ou die Kleinman is wat ruimhartig erken dat hy hom vrek verlang het na sy ma...;-)


Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page