top of page

'n Ma ontbloot haar tekortkominge...


Hierdie scenario draal al vir dae oor en oor in my kop, te bang is ek egter om dit neer te pen, uit vrees dat jý liewe mede-ma my dalk met hoog opgetrekte wenkbroue sou aankyk.

Ék sou oordeel in jou kykers bespeur en dit sou my totaal ontmoedig. Vanoggend, àl aan die mor en teem, soos ’n kind om Sy voete moedig Hy my aan om dit tòg aan jou te vertel…en te hoor wat jy dink. Hou asseblief jou wenkbroue in toom.

Toetsreekse bring ongekende emosionele skommelinge te weeg in ons huis. Saterdag lê ek die studie reëls vir die dag neer. Vroeër die week het ek aan die Blom my hulp met die organisasie van haar baie werk belowe. Haar net so bietjie touwys te maak en te help prioritiseer.

’n Tiener, het vermoedelik geen probleem met prioriteite nie, ek wens ek kan ontrafel hoe daardie kind van my enige toetse deurkom. My studie reëls geld blykbaar ook nie vir hom nie, hy gee sy ondeunde, skewe seunskind glimlag en ek weet hierdie battle het ek al in Graad 4 verloor.

Kleinman wil soos gebruiklik leer en hy wil nou leer. Wetend dat hy meestal meer as tevrede is om buite met ’n bal te speel, vra ek hom om so bietjie daar te vertoef dat ek en Blom net solank kan vorder.

Gedurende toetsreekse egter, is die son te warm en hy te moeg. Hy hyg hangend deur die Blom se kamervenster, kreun en kerm dat hy ook nou dadelik moet begin leer en nooit met alles gaan klaarkry nie. Hierdie spektakel, van hom wat met ’n rooi gesig, rugbybal onder die arm deur die venster hang, skakel ’n baie emosionele skakelaar by die Blom aan.

Daar word oor en weer vir mekaar geskree en voor ek my kon kry is ek die rede vir die oor en weer beskuldigings. ’n Blom se oë skiet vol trane en ’n ma hoor hoe sy meestal tweede viool moet speel, daar nie naastenby so baie tyd in haar belê word soos aan die seuns nie. Die verwyte glip-gly versigtig en saggies soos die trane wat oor die wange loop. Onwillekeurig dink ek, dat hierna, hoegenaamd niks van my selfbeeld oor sal wees nie. Haar sê is gesê en toe geen meer woorde oor is, rol ek my oë soos ’n properse tiener en stoom die kamer uit. Klap die deur dat die kosyne eintlik so bewe. Heel verslae laat glip ek self ’n traan toe ek voor Hom gaan sit.

“Het U genade vir my Here, want hier gaan ek dit nie vandag kry nie…As ek so afskeep soos dit klink, wat gaan van my kinders word? Ai Here, maar ter versagting, is ’n Ma se werk wraggies ’n besonderse uitmergelende een. Elke ander individue in die huis se emosies, tekortkominge, passies, liefdes, hartseer, mislukkings en pyn word alles binne haar vasgevang. Daar poog sy om dit te ontknoop, deurdink én bebid sy elke liewe een. Soms word haar eie emosies ’n warboel wanneer sy in vreugde saam met een moet dans, wyl die mislukking van ’n ander haar wil opvreet. Ja, dan maak sy foute, vergeet belangrike datums of iets so simpel soos om ’n kind se toets te teken. Here, dan kan ’n Ma wat in deeltjies verdeel voel net by haar Meester kom genade bedel. Genade, nog meer wysheid en oorvloed vergifnis.”

’n Begenadigde ma gaan maak vrede. Vra vergifnis. Probeer verduidelik hoe dit soveel makliker is om die een in die huis wat blyk sterk en in beheer te wees, meer kere aan haarself oor te laat. Vertel haar hoe lief ek haar het en trots ek op haar is en onderneem om weer te probeer. Heelwat later die dag kry ek ’n beker tee en ’n stywe druk van ’n Blom.

Ek vermoed ons verskille is beweer, ek ys egter by die blote gedagte dat die toetsreeks skaars begin het. Gelukkig is nie almal se nerwe ewe dun nie en ek sien dit selfs as groot genade dat ’n Tiener blykbaar so besonders goed funksioneer sonder my reëls…;-)

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page