top of page

'n Ma se huis is waarskynlik uiters normaal...


Ek is nie besonders trots daarop nie, dit laat my ook nie danig vervuld nie, maar om skuldig te voel en myself oor alles en almal te bekommer is tweede natuur vir my. Dit kan jou dus dalk laat verstaan hoe vreeslik ontmoedig ek kan raak sodra ek ’n storie oor een of ander van my mensies voltooi en natuurlik geplaas het, net om die volgende dag rooi in die gesig gelaat te word deur een van hulle...Gister was dan ook ’n dag waaroor ek beslis nie opgewonde voel nie. Ons almal was effe mislik, geen vrug van die gees was in die huis teenwoordig nie. Gevoel asof niemand die son oor ’n ander kon laat skyn nie, selfs ek was nukkerig en emosioneel oorlaai. ’n Kleinman het dit waarlik gewaag om te vra of dit al weer PMS is. Geen bos blomme vir my oor die antwoord aan hom nie. Met slaaptyd was my emosionele tenk dolleeg en toe ’n Kleinman vir die soveelste aand in ’n ry betraand vrae vra waarvoor ek geen antwoorde het, kon ek slegs kopskuddend uitstap. Ek het soos ’n slegte ma in die bed geklim wyl ek na sy lê en luister. My ore was gespits toe ek die swaar voetstappe van die Tiener hoor wat na Kleinman se kamer gaan, ek het ’n oorlog soos min verwag. Groot my verbasing egter toe ek die kamerdeur hoor toegaan. Onseker oor die moontlikheid van ’n moord, spring ek eerder vinnig uit die bed en hardloop gang af. Net toe ek die kamerdeur wou oopmaak hoor ek die diep tienerstem vol liefde en geduld met ’n Kleinman praat, hoewel ek nie alles kon hoor, al was my oor styf teen die deur gedruk, kon ek ’n skrif uit die Bybel uitmaak en daarna die volgende: “Verstaan jy wat ek nou gelees het? Nie? Nou kyk, wat dit eintlik beteken is dat God wat die skepper van die hemel en aarde is, jou, jý ’n outjie wat die pad so mooi reguit stap, nooit alleen sal los, of sal toelaat dat iets met jou gebeur nie. Hoor jy dit? God is lief vir jou. Kom, klim in jou bed ek sal later jou lig kom afsit.” Ek probeer om ’n donker hoek verdwyn en kyk hoe ’n Tiener met swaar voetval weer wegstap.

Terug in my bed kan ’n ma se lippie maar bewe agter haar Hoof, wat vas slaap, se rug. “My Here, ons is maar so vol foute, die hele spul van ons doen meer verkeerd as reg voel dit soms vir my. Ons word woedend vir mekaar en sê tog te vreeslike goed. Vandag was nie ’n dag van danige liefdevolheid in my huis nie. Ai Here, maar as ek luister na wat ek nou in daardie kamer gehoor het, dan weet ek uiteindelik sit ons harte tog op die regte plek. Ons is lief, al wys ons dit nie altyd nie. Ons gee om, al wurg ons mekaar soms met seerkry woorde. Dankie, Here, dat nes ek dink ek maak vreeslik droog en my moed oor kinders grootmaak sommer laag lê, U my kom wys dat dinge nie so vêr verkeerd is as wat ek soms oor wil skuldig voel of selfs oor wil bekommer nie.”

Ons het wakker geword met ’n Kleinman wat op ’n kombersie voor ons bed kom slaap het. Vanaand sal ek weer geduld vir sy baie vrae hê en dalk selfs ’n paar antwoorde ook. Ek het ’n Tiener styf vasgedruk, my dankie was woordeloos en sy bruin oë het gevonkel, want ek was glo nie gisteraand rats genoeg nie...

Liewe mede-Ma, ons is soms so hard op onsself en ons gesinne. Kom ons, ek en jy, onthou dat Hy nie perfektheid verwag nie, slegs gehoorsaamheid. Ons is gehoorsaam, glo ek, wanneer ons, ons nie so perfekte lewens, voor Hom kom lê in nederigheid en Sy hulp en raad kom bedel...


Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page