'n Mamma word 'n Ma...
- Doodgewone Ma
- Nov 1, 2016
- 2 min read

Uit die bloute kom sy woorde: “Ek sal nou vir mamma moet begin Ma noem, ek gaan nou hoërskool toe.” Verbaas draai ek om: “Hoe maak jy daai som? Staan dit in die skoolreëls?”
Hy lag sy ondeunde seunskindlag. “ Nee, Ma, dit staan nie daar nie, dis net een van daai dinge. ‘n Groot seun praat van Ma en Pa.”
Ek wil hom vertel hy is g’n groot nie, ek is nog langer as hy, net ‘n voorkop, maar darem. Hom herinner dat eens op ‘n tyd dié mamma op en af in die gange met sy skreeuende bondeltjie-lyfie geloop het tot hy slaap, klein min slaper wat hy was. Hom grepies video wys waar hy “Mamma-Mamma” sê vir alles wat voorkom. Hom daarop wys dat dit nog steeds sy gunsteling woord is om te roep deur die huis. Ek kyk hom egter gemaak kwaai aan en sê: “Wel, noem my Ma en ek gee nooit weer vir jou kos nie!”
My amperse hoërskoolseun druk my styf vas en sê: “Ons twee maak ‘n deal. By die huis is dit Mamma, maar kan ons settle vir ‘Ma’ buite die huis?” Ek kyk in sy twee glinsterende bruin ogies, druk my seunskind styf vas en fluister: ” What’s in a name? Ek weet tog in jou hart bly ek jou mamma.”
Hy draai om en stap weg, by sy kamer skree hy: “Lief vir Ma!” ‘n Mamma laat glip ‘n traan, want sy’t nou ‘n Ma geword. Sy weet dit behoort nie ‘n emosionele affêre te wees nie… maar dit is. Sien, ‘n mamma kan seerplekkies soen, hare help plat kam, lyfies bad. Sy word nog onvoorwaardelik geglo.
‘n Ma, gee die pleister aan of mag dit soms plak, kyk na die hare, maar moet liefs stilbly sou die styl haar nie geval nie. Sy gee slegs die bevel om te gaan bad. Sy word geglo maar dit vereis heelwat meer debatte… So word ‘n Mamma toe ‘n Ma, nooit gedink dit gaan soveel emosie meebring nie… ;-)
Comments