top of page

'n Ma se huis maak musiek...


Met die Hoof van ons huis op ‘n lang sakereis, en die feit dat dit boonop eksamen is, gaan dinge in ons huisie heel...wild.

Soos ‘n perfek uitgewerkte stuk musiek, wissel dit hier van Legato-oomblikke waar alles rustig vloei soos ‘n tintelende stroompie water. Net om die volgende moment te ontplof in ‘n Staccato wat soos vuurtonge rondspring en té warm raak. Op ‘n middag voor hy Engels skryf is die Tiener eerder besig om ‘n ou rekenaar uitmekaar te haal.

Op my vraag of dit régtig nou prioriteit is, moet ek hoor dat daar nou al vir drie jaar ‘n speletjie in die cd drive vassit, wat hy NOU moet uitkry…Ek voel moeg en uitgeput. Toe die Kleinman nog bietjie later huil-huil kerm dat die Tiener hom tart en glo wurg, is my tenkie dolleeg…woorde glip uit sonder keer:”Jy weet ek gee hom sommer weg, maar wie op aarde sal hóm tog wil hê?” Soos die woorde die Kleinman se oortjies bereik, sien ek die trane opdroog en die oorwinnende glimlag. Ek weet ek het myself nou ver verby skaakmat geplaas…

Later die dag, gebeur nog ‘n vurige struweling tussen die twee, en my senuwees is aan flarde. Ek weet dat die Kleinman wag vir ‘n geleentheid om my woorde te herhaal, hy stel nie teleur, ek hoor : “Mamma sê, sy wil jou eintlik weggee, haar enigste probleem is net dat niemand jou sal wil hê nie!” ‘n Vuil kyk in my rigting gevolg deur ‘n deur wat toeklap en my hart word ‘n klip hier binne my.

Ek tob heel aand oor wat ek gaan doen om hierdie verhouding te herstel toe die Tiener roep: “Gaan Mamma nie bad vanaand nie?” Ek wonder of hy beplan om my te verdrink, en antwoord dat ek later sal stort. Hy beduie dat ek gou iets moet kom kyk. Hy maak die badkamerdeur oop en al wat ek sien is die sagte kerslig om die bad, gevul met stomende water en baba-olie nes ek daarvan hou…Ek druk hom styf-styf vas en vra: “Glo jy ek wil jou weggee? “ Ek hoor die lag in sy stem hier teen my nek: “Net so min soos Mamma my glo as ek sê ek leer…”

In die heerlike stomende water dink ek hoe gelukkig die vrou gaan wees wat hierdie seunskind eendag vir ‘n man kry. Ek sê vir Hom dankie vir die musiek in my lewe, al is nie alles daarvan altyd mooi nie. Hy vertel my dat eendag gaan ek die héle stuk musiek aanmekaargesit hoor en die prag simfonie sal my verstom laat, en ek glo Hom…;-)

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page