top of page

'n Ma word herinner aan genade...


Dis laatmiddag en ek staan in die betaal ry van die Woolies om die hoek. My frustrasie vlakke lê waarskynlik ontbloot op my gesig.

Die ligte reëntjie buite en die feit dat ek nie nou knus en warm met my boek sit nie, is vir my een te veel. Nee, ek jaag agter benodigdhede aan wat die juffrou skynbaar eers vandag genoem het. Moeilik om te glo, ek weet, dús is ek moontlik meer vies vir myself wat altyd val vir die oorbekende storie. Agter my in die ry hoor ek stemmetjie wat my laat omkyk, die dierbare gevreetjie is seker so vyf jaar oud. Hy probeer sy ma oortuig om vir hom van die lekker doughnuts te koop vir môre se kosblik. Sy aanslag is so tipies van hierdie ouderdom.

“Al my maats het áltyd van die in. Almal van hulle, sommer die hele klas!” Die ma se, nee, is nie vir hom goed genoeg nie en mannetjie se stem klim nog so ’n oktaaf of twee, asof dit die oorreding makliker sal maak.

Vir ’n klein rukkie vergeet ek my eie rede van irritasie en wonder wat hierdie ma se ontsporings tegniek gaan wees. Toe ek voor in die ry beland en mannetjie sy laaste hoogste noot tref, neem sy ma hom ferm in die sirkel van haar arms, sak af, kyk hom stip in die ogies en sê: “Ek gee regtig nie om of ál jou maats elke dag sulkes inkry skool toe nie. Ek is jou mamma, ek weet wat is goed óf nie goed vir jou nie. Dis my werk om jou gesond te hou en ek beplan om daarby te hou. Jy stop nou jou gekerm, my antwoord gaan nie verander nie. Dis nou klaar!”

Jou waarlik, met my goedjies klaar betaal en op pad uit, kyk ek nog vir oulaas terug en ’n singende, kermende mannetjie van vroeër is ewe tevrede.

Huis toe laat hierdie insident my dink aan my verhouding met my Pa en onwillekeurig fluister ek: “Here, op kermende, trane trekkerige dae klink ek mos nes die mannetjie in Woolies. Graag vertel ek U dan van alles wat almal om my het en hoe gelukkig hulle dan sodanig is. Herinner U aan planne van ander wat immer uitwerk, geldsake wat klopdisselboom verloop en kinders wat die een prys na die ander losslaan. Wonder dan, ewe melodramaties, hoe U dan werk en wanneer my beurt nou aanbreek. Ai Here, elke liewe keer dan moet ek my kop in skaamte laat sak, in die kring van U sterk arms. Hoor hoe U my ferm vertel dat U presies weet wat goed is vir my en van ’n pad wat U vir my beplan het. My stip aankyk en daarop wys dat U weet waar ek groei nodig het, al maak dit nie noodwendig op die tydstip, in my raamwerk, enige sin nie. Ek dan uit U liefdevolle omhelsing kan stap tevrede met alles waarvoor U ja óf selfs nee sê. Dankie, tog vir ’n Pa soos U.”

Tuis weet ek, soms kan ’n lastige rit op ’n onmoontlike tyd, uit die bloute, broodnodige perspektief bring en ek is opnuut dankbaar vir ’n God soos myne…

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page