top of page

'n Ma se hart is seer...


Ons familie pyn. My broerskind is besig om sy moedige stryd teen kanker te verloor. Die res van ons familie pyn saam hulle. My kop wat hierdie ding nie kan uitpluis maak dat ek wye draaie om Hom stap...Ek bid vir die gesin, ek dra hulle deurentyd op, geen begin of einde aan my gebede vir hulle. By Hom stilsit, luister en praat dié doen ek egter nie…In my huis hanteer elkeen hierdie seerkry op sy manier en ek gee elk die ruimte daarvoor. Gisteraand toe ek dink dat Kleinman lankal slaap, kry ek hom regop in sy bed. Hy roep en vra of kan ons vir die nefie bid. ‘n Kind se smeking om God se ingryping in die skynbaar hopelose situasie ruk aan my hart, sy geloof maak myne piepklein voel. Ek druk ‘n hartseer lyfie styf vas en kan hom niks oor die dag van môre beloof, voel eerder soos ‘n slegte ma wat nie eers hoop kan aanbied. Vanmôre wyl ek weer rond jaag en eintlik nie veel doen nie, konfronteer Hy my. Noem dat Hy my lanklaas naby Hom gevoel het. Ek begin met lomp verskonings en voor ek my kon kry, trek Hy my, sag soos net Hy kan, in die kring van Sy ewige sterk arms. Teen Sy bors wonder ek oor Sy plan, Sy ‘daar wees’ in pyn en of Hy dan ooit al ons smekinge hoor. Na my lang relaas, herinner Hy my aan die skrif wat die Tiener die ander aand vir ons gelees het. Ek kon nie verstaan hoekom hy slegs die een vers lees, hy het egter gesê dat dit al is wat hy het. Dit het vir my so stomp geëindig, ek het gevoel daar moet tog meer wees. Ek soek dit dadelik weer op:

Ps 40:2 NLV

‘Ek het gesmag na die hulp van die Here.

Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor.’

Daar is baie meer, na vers twee, maar skielik verstaan ek. Ja, die Skepper van hemel en aarde buig af na ons, midde ons pyn en seerkry om ons te hoor… Ek weet nou dis al wat Hy wou hê ek vir nou moet weet en verstaan en ek berus daarby. Vanaand sal ek my eie gesin met hierdie seker wete hoop gee.

Mede-Ma mag ek vrymoedigheid neem en vra, bid asseblief saam met my vir ‘n gesin wie se harte so seer is.

X

Word deel van hierdie blog familie!

Wees die eerste om 'n nuwe storie te lees!

Recent Posts
Search By Tags
No tags yet.
bottom of page